by Cinnapanel | Feb 13, 2017 | Uncategorized, Weddings
“Al loop iets verkeerd op jou troudag…is jou dag nog steeds PERFEK, want jy trou met die liefde van jou lewe en jy deel die spesiale oomblik met vriende en familie. Wat kan ooit meer perfek wees as dit?” – Ania

Hoe het julle ontmoet en hoe het hy jou gevra om te trou?
WJ se nefie het met my beste vriendin getrou. Hy was ‘n strooijonker en ek was ‘n bruidsmeisie – hy van Nelspruit en ek van Pretoria. Toe ons op die troue ontmoet was dit “love at first sight!” (….ja, dit gebeur in die regte lewe en nie net in die ‘movies’ nie!) Na daardie aand was die koël deur die kerk en die res is geskiedenis!

Hoe het julle verloof geraak?
My pa het ‘n wildsplaas met ‘n dek van sewe meter hoog – my gunsteling plek in die hele wêreld! Vir my verjaardag het ek my naaste vriende en familie plaastoe genooi. WJ het toe nog in Nelspruit gebly. Hy moes die Vrydag na ‘n vêr klient gaan en het gesê hy gaan eers laat die Vrydagaand of vroeg die Saterdagoggend kan kom.
Die Vrydagoggend het hy my vroeg wakker gebel en gesê ek moet in my kar se kattabak by die spaarwiel gaan kyk, daar was ‘n briefie (wat hy die vorige naweek daar weggesteek het). In die briefie het hy verduidelik dat hy met my bestuurder gereël het dat ek die dag verlof het, en dat hy vir my en my ma ‘n middag by die spa bespreek het. Hy het gesê dis ‘n bederfie omdat hy nie op my verjaardag by my kan wees nie. Omdat hy so ‘n romantiese persoon is was dit glad nie vir my vreemd of verdag nie. In die briefie het hy verder geskryf dat hy my verjaarsdaggeskenk op my gunstelingplek gaan wegsteek en dat ek net vir my pa moet vra waar dit is as ek op die plaas aankom.
Nadat ons by die spa ontspan het, het ek dek toe gery om my geskenk te gaan soek. Toe ek daar aankom was dit tjoepstil – ek het niks of niemand gesien nie. Eers toe ek heel bo kom het WJ opgespring…ek het nog nie eers ‘hallo’ gesê nie, toe gaan hy al op een knie en vra my om met hom te trou. Daar was die mooiste sonsak nog ooit aan die een kant van die dek en die ander kant was die ‘super-maan’ besig om op te kom. Daar was koekies en kasies en sjampanje. Later het al ons vriende by ons kom aansluit op die dek (almal het geweet) en die hele naweek was een groot feesviering gewees.
Vertel bietjie meer oor die styl van julle troue?
Ons styl was boheems. Groen is my en WJ se gunsteling kleur, so ons kleurskema was hoofsaaklik groen met bruin, wit, pienk en geel. Ons het op my pa se plaas getrou – die seremonie was by die dam en die onthaal was rondom die stoor en stoorhuis.
Familie en vriende het al van die Donderdag gekom om te kom help. Dit was ongelooflik spesiaal gewees, so ‘n familie-vriende-spanpoging-troue waar almal saamgewerk het, saam gelag het en saam gekuier het. Dit het ook gemaak dat almal die troue baie waardeer het, juis omdat hulle geweet het hoeveel moeite dit was!
Ek en WJ is plat-op-die-aarde-mense wat mal is oor ons familie en vriende, niks was baie formeel en styf nie. Ons het gehuppel toe ons in die onthaal instap en ons het ge-tiekiedraai in ons openingsdans – dit was die mooiste, lekkerste en gelukkigste dag nog van my lewe.
Waaroor het julle preek gegaan?
Ons het vir WJ se skoonsussie gevra om die boodskap vir ons te doen. Haar preek het gegaan oor hoe God ons oor die jare vir mekaar uitgekerf het en met ‘n plan gemaak het sodat ons by mekaar pas en hoe ons ook met ‘n plan in die huwelik moet in gaan; met ‘n einddoel in sig. Sy het vir ons twee uitgekerfde houtmannetjies gegee en die preek in ‘n mooi boksie gesit wat ons vir altyd kan hou en ons altyd aan daardie dag en God se plan kan herhinner.

Wat was vir jou die heel beste oomblik ?
Sjoe…ALLES…ek weet dit is ‘n clichè antwoord, maar elke liewe oomblik van my troudag was my gunsteling! Ek sal probeer om ‘n paar te noem:
- Die eerste oomblik wat my pa my gesien het.
- Die oomblik toe ek met ‘n donkiekar afry kerk toe en WJ se gesig sien, en saam met my pa in die gang kon afstap.
- Die oomblik wat ek ‘ja’ kon sê en my man vir die eerste keer soen.
- Die feit dat ons gaste dit geniet het en soveel komplimente gegee het en gesê het dat hulle die LIEFDE kan voel.


Kyk sommer hier na ‘n kort video oor WJ en Ania se troudag:
https://vimeo.com/179623314?ref=fb-share&1
Diensverskaffers:
Fotografie: Stroopsoet fotografie
Kruisbande: Eden&Co. Quality Leather Goods
by Cinnapanel | Jan 16, 2017 | Uncategorized, Weddings
Waar het julle storie begin?
“Ons het van mekaar geweet sedert Hoërskool, maar omdat ek reeds in ons Graad 9 jaar na ‘n ander dorp verhuis het, het ons nooit so ver gekom om mekaar beter te leer ken nie.
Op ‘n stadium het ons paaie weer gekruis. Hy het toe buite Warmbad op ‘n wildsplaas gewerk en ek was in my tweede jaar op Universiteit in Potchefstroom. Wat aanvanklik ontstaan het as gereelde uitruil van boodskappe, het vinnig verwikkel tot uur-lange oproepe. Na ongeveer twee maande hiervan, het Abri besluit om vir die eerste keer by my te kom kuier in Potch – hy het toe ook vir my gevra om sy meisie te wees. Ten spyte van die afstand tussen ons het ons liefde geblom en het Abri na 3 jaar besluit om my verloofring te laat maak. Soos ons mekaar beter leer ken het, het ek definitief besef hy is my trouman en sedertdien was daar geen uitkomkans nie…”
Hoe het hy die Groot Vraag gevra?
“Ons was met vakansie in Natal. Omdat Abri geweet het dat ek nog altyd baie graag ‘n leeupark wou besoek, het hy ‘n plan beraam en vir ons op 17 Desember ‘n uitstappie beplan na ‘n naby geleë “leeupark”. Ten spyte van ons opgewondenheid, was dié leeu-park ‘n groot teleurstelling. Oppad terug huis toe sien ons toe ‘n “African Bird of Prey – Sanctuary” en besluit om dit ons laaste stop te maak met die hoop dat ons darem iets kan maak uit ons dag.
Ons was nie lank daar nie, toe verskoon Abri homself – en sonder dat ek snaaks daarvan gedink het, gaan ek aan om die ander roofvoëls by die park te besigtig. Terwyl ek besig was om foto’s te neem het Abri my van agter geroep: “Liefie, liefie…”. Ewe geïrriteerd draai ek om, net om hom daar op sy knieë te sien staan met die ring in sy hand. My eerste woorde was “Dis huge!”, maar ek kon uiteindelik ‘n “JA!” uitkry so tussen al die trane en emosies deur.”

Julle troue het die mooiste plaasgevoel gehad, waarom het julle op die tema besluit?
“Ek en Abri is albei baie lief vir die plaas en buitelewe, daarom was die plaastema – en ook ‘n venue wat by hierdie gevoel inskakel – vir ons vanselfsprekend. Ons wou graag aardse elemente inbring om die troue ‘n eenvoudige, maar steeds klassieke gevoel te gee. Die styl van ons troue was hoofsaaklik rustiek met ‘n paar moderne- en vintage elemente. Ons het gebruik gemaak van melkkanne, waterkanne, enamel baddens, houttolle en hout tafelblaaie wat ons self gemaak het om die tradisionele plaas-elemente in te bring.
Ons het ‘n neutrale en pastel kleurpalet gebruik. Die blomme en dekor het ‘n verksiedenheid groene, sagte pienke, room en wynrooi ingesluit.”
Het julle die meeste van die troureëlings self getref?
“Ons het glad nie gebruik gemaak van ‘n troukoordineerder nie – tussen ons en ons vriende en familie is al die reëlings self getref.”
Wat was vir jou die mees spesiale oomblik van jou hele troue?
“Ek en my Pa was ongeveer ‘n derde van die afstand in die bos-paadjie afgestap, toe daar êrens in die verte ‘n bees begin bulk het. Die ring-draertjie, Zian, wat voor ons geloop het, het onmiddellik die ring-kissie neergesit en tussen die bome rondom die paadjie begin klim om ondersoek in te stel. Toe ons hom terugroep, het hy met groot verwondering vir ons vertel dat daar “leeue” in die bos is. Dit het die aanvanklike swaar emosionele gemoed dadelik verlig.
Die oomblik wat ons die bos-kerk binnegestap het en ek vir Abri gesien het met koeëlronde trane op sy wange, kon ek nie meer my emosies inhou nie. Dit was ‘n emosionele, maar ook uiters intieme dag vir ons albei.”
Verksaffers:
Fotograaf: Hello Love Photography [Dominique: hi@hellolovephotography]
Troukoek: Annette van Dyk [Annette: 082 453 0997]
Trourok: Marianna Zwaan Designs [Marianna: 082 461 3292]
Bruid se bykomstighede: Lovisa & L’Afrique Jewellers
Bruidsmeisies se rokke: Adri du Plessis [Adri: 083 458 7541]
by Cinnapanel | Jan 11, 2017 | Uncategorized, Weddings
Eurice en Danielle se verlowingsfotos deur die talentvolle Matthew Carr is te mooi om nie te deel nie!
Lees meer oor dié twee se troue hier.
Fotograaf: Matthew Carr.
Eurice se kruisbande: Eden&Co Quality Leather Goods








by Cinnapanel | Nov 2, 2016 | Uncategorized, Weddings
Hendrik en Melissa loop so oor van liefde vir mekaar dat dit uit elke foto straal. Hulle troue was ‘n fees! Almal lag so lekker op die foto’s, dat ons eenvoudig by Melissa moes gaan hoor wat haar geheim was!
Waar het julle twee se storie begin?
“Ons ontmoeting was per toeval. Ek kan nie help om te dink dat die Here ons op mekaar se pad gesit het nie. Ek het op Bethal, Mpumalanga, gewoon en hy op Utrecht, KwaZulu Natal. Hy was vir ‘n 6 weke kursus op Witbank en het by sy suster-hul (wat 15km buite Bethal woon) gebly vir daardie tyd. Ek wou die aand van ons ontmoeting rustig by die huis bly toe ‘n goeie vriendin my nooi om saam haar iets te gaan drink. Hy was deur ‘n vriend genooi om te kuier op Middelburg na sy kursus, maar het besluit om terug te keer huis toe. Ons was by ‘n bekende kuier plek in die dorp en voor hy huis toe gegaan het het hy gestop om ‘n ou vriend te vergessel.
Ek het rustig saam vriende by ‘n tafel gesit toe hy ons nader, en ordentelik vra of ek en die vriend langs my gekys is. Ons altwee het verward na mekaar gekyk tot my vriend nee gesê het. Hendrik het toe na my toe gedraai en gesê hy wou net sê dat ek ‘n beeldskone vrou is en as ek en my vriend wel saam was, moet hy mooi na my kyk. Ek was toe so stomgeslaan, maar ons het op die ou einde nommers geruil.
Die naweek daarna moes ons Pretoria toe gaan vir my oom se begrafnis en die week daarna was Hendrik se laaste week van kursus. Hy het seker gemaak hy sien my elke aand, hy het rose gebring, my uitgevat vir ete, my aan sy familie voorgestel en toe moes hy terug huis toe. Hy het daarna vir maande lank elke naweek of elke tweede naweek by my kom kuier.”

Hoe het hy jou gevra om te trou?
“Ek is mal oor ons verlowing storie! Ons was laas jaar Kalahari toe waar ons vir sy familie gaan kuier het. Ons het gepraat oor verloof raak, ek het my ring ontwerp, en ek het gewonder wanneer en hoe hy my gaan vra, maar almal was so geheimsinnig dat ek niks vermoed het nie.
My ma het my ring in Middelburg gaan haal toe hy klaar gemaak is,so ek het nooit die eindproduk gesien voordat ons verloof geraak het nie. Voor ons vertrek het Kalahari toe het my ma vir Hendrik gevra of sy die ring moet saambring, maar ek het in die kar gesit en hul gesprek gehoor! Toe ons by die familie kom het ek haar gevra of sy my ring saamgebring het, en toe sy nee sê het ek haar tas deursoek om seker te maak dat sy die waarheid praat!
Hier by die vierde dag van ons vakansie het ek geweet dit gaan nie gebeur nie. Ons was in Kuruman en Van Zylsrus en ek kon nie dink waar ons sou verloof raak in Douglas nie.
Ek het die Woensdag moed opgegee oor ons die Vrydag weer huis toe sou gaan. Die Donderdagoggend is ons toe na ‘n wynkelder in die omgewing toe, maar my ma voel toe nie lekker nie, so ons moes terug plaas toe gaan om haar af te laai. Hendrik hou my toe besig terwyl ons familie ons bagasie in die kar pak. Hulle vertel vir my dat Hendrik se suster-hulle na lodges in die omgewing wil kyk, want hul beplan om saam vriende daar vakansie te hou, so ons vat toe almal die pad om na die plekke te gaan kyk.

Ons eerste stop was by Broadwater River Estate. Hendrik en skoonsus het verdwyn terwyl ek en swaer na die ongelooflike mooi plek gekyk en foto’s geneem het.
Daar was ‘n klein motorboot. Ons was so uitgeput met rondry dat Hendrik vir my gese het hy het sommer die boot bespreek dan kan ons by die Lodge ontspan terwyl skoonsus-hul na die volgende plek gaan kyk.
Ek was so in my skik met die fênsie plek dat ek niks vermoed het toe my skoonsus met ‘n mandjie vol eetgoed daar aankom en die sjampanje nog ook op die boot staan nie.
Ons was so 45 minute op die vaalrivier voor Hendrik my vra, is jy nog lief vir my en wil jy nog met my trou? Ek sê toe dadelik natuurlik, waar kom dit vandaan? Hy het in die boot op sy knieg gegaan en my gevra om met hom te trou! Dit was ‘n wonderlike gevoel.
Daar was ‘n tafel in die restaurant vir ons gedek naby ‘n vuur en hy het plek bespreek vir ons om by die lodge te oornag, dit was werklik ‘n onvergeetlike, sprokies verlowing! My man het baie moeite gedoen.”
3. Vertel ons n bietjie meer van julle troubeplanning – hoe het julle op n “venue” besluit, het julle self al die reelings behartig of het jy n troukoordineerder gehad?
“Ek het vir maande lank dag en nag idees op Pinterest gesien en Facebook bladsye besoek om ‘reviews’ te kry. Ons het ons troue self betaal en self beplan, ons het ‘n paar venues in gedagte gehad maar Grasslands Wedding Venue op Bethal ideaal om alles van die huis af aan te ry venue toe.”
Wat het jy die aand/oggend voor jou troue gedoen om die tyd om te kry ?
“Ek en my bruidsmeisies kon nie ‘n oog knip die aand voor my troue nie, ons het tot laatnag gesels oor ons jong dae, skooldae en alles wat ons saam gedoen het. Hierdie groot dag het vir ons onwerklik gevoel. Ons het seker eers eenuur die oggend aan die slaap geraak.
Die oggend van my troue het ek wakker geword en besef die dag is hier, ek trou! Dit het gevoel of die dag te vinnig gekom het, ek het nog so baie gehad om te doen! Ons het heerlike omelette en sjampanje geniet vir ontbyt en gewag vir die mooimaaksessie. Dit het soos ‘n leeftyd gevoel. Toe die fotosessie klaar is het ek en my bruidsmeisies “going to the chapel” gesing soos ons aangeloop het na die diens. Die voorbereiding het langer gevat as wat ek gedink het! Ons troue het 15:00 begin en ek het ongeveer 15:30 by die kapel ingestap, my man se senuwees was klaar!

Ek was oorweldig met oë wat net op my is en familie wie se trane oor hul wange rol. Die eerste keer toe ek werklik my man in sy pak sien was toe Ds. Annatjie vra om die regter hand vir mekaar te gee, hy was vir my so aantreklik! Daarna het ons die nuwe Toyota Hilux Raider vir ons buite gewag! Ek was vreeslik in my skik. Ons het fotos geneem en gelag en daarna die onthaal ingegaan en makietie gehou. Alles was perfek, ons troue het vir ons vreeslik rustig gevoel, niks was gejaag nie.Ons troudag was onvergeetlik maar alles wat so vinnig op ons, kan vandag nie glo ons is reeds getroud nie!”
As mens na julle foto’s kyk lyk dit of almal letterlik hul gate uitgeniet het – het jy enige raad vir voornemende bruide oor hoe om te sorg dat n mens se troue so lekker en gemaklik is?
“Die enigste manier om jou troue te geniet is om rustig te wees, ‘n goeie ontbyt te geniet saam met jou gevolg en om nie te bekommer oor die klein goedjies wat dalk kan verkeerd loop nie. Al het jy iets vergeet gaan die mense nie eers weet nie en hul gaan iets ander sien wat vir hulle ‘amazing’ is. Moet nie troue beplan om ander mense te beïndruk nie, beplan jou troue soos wat jy dit wil hê. Dit gaan net een keer gebeur en die laaste ding wat jy wil hê is om na die tyd spyt te wees oor iets wat jy wou doen en nie gedoen het nie. Kry ander opinies maar bly by jou keuse, al is hulle s’n goedkoper. Dis die een dag wat jy jou droom dag ‘n werklikheid kan maak. Rus ook baie voor jou troue!! Anders wil jy al 11 uur in die bed gaan klim en die mense by die onthaal los!”
Diensverskaffers;
Fotograaf – Renske de Klerk van
RDK Fotografie (Melissa: “ek kan haar aan enige iemand aanbeveel. Haar persoonlikheid is nie net aangenaam nie maar sy deligeer die mense en neem aksie wanneer jy rondhardloop en probeer om klaar kry”.)
Grimeerkunstenaar – Marchel Kruger makeup Artist & image consultant
Details – Bakgat ontwerp
Hare – Mylene Janse van Rensburg van HairFanatics in Bethal
Strooi meisie rokke –
YDE in Pretoria
Feetjieliggies – Elaine van Secunda
by Cinnapanel | Oct 31, 2016 | Uncategorized, Weddings
Eurice en Danielle het nie net een van die mooiste verlowingsfotosessies ooit gehad nie, hulle troue was boonop so stylvol en elegant as wat kán kom! (Ons plaas hulle verlowings foto’s in ‘n volgende artikel)
Ons het vir Eurice gevra om ‘n paar vrae oor hulle troudag te antwoord.

Hoe het julle ontmoet?
“Ons het amper ses jaar terug ontmoet voor die slaghuis waar ek as student worsrolle gebraai het. Danielle se ouers het die drankwinkel langs die slaghuis besit. Ek het eers vriende met haar ma en pa gemaak nie geweet hulle het so n mooi dogter nie. Ons was eers vriende, maar net vir n kort rukkie toe begin ons vry!”

Hoe het jy haar gevra om te trou?
“Sjoe, groot stories hoor! Ek het al begin werk in Johannesburg en Danielle was nog onderwyseres in die Kaap toe ek die hele ding begin beplan het. Sy het van niks geweet nie. Ek het haar verras met n aand weg by Mofam River Lodge in Grabouw en haar op die jetty van ons rivierhut gevra om te trou. Die hele episode het baie beplanning geneem.”
Jul het die mooiste troue gehad! Vertel ons n bietjie meer daarvan.
“Baie dankie. Ons troue het soos n droom verby gevlieg. Kleure was ligte koraal, mint groen en ‘n ligte goud. Die styl is moeilik om te beskryf, so effens modern vintage pret tipe iets. Ons het gedans op “you and me” van Dallas Green en Pink. Die gaste was vooraf besig gehou met n speletjies, verversings en musiek. Daar was ook n slush puppy masjien en craft beer ‘on tap’.”
Wat onthou julle van die preek?
“Ons het nie n tradisionele preek gehad nie. My pa het ons getrou en die tema van sy boodskap was Christus. Christus is als in die huwelik.”

Om te trou en skielik n nuwe, eie eenheid as man en vrou te vorm is n groot aanpassing vir enige iemand – het julle wenke oor hoe om altyd te sorg dat ‘n mens beste vriende bly en nie naderhand verby mekaar lewe of “gewoond” raak aan mekaar nie?
“Kommunikasie, en ook die feit dat ons interafhanklik van mekaar is en nie afhanklik van mekaar is nie. Danielle en ek is twee verskillende mense met verskillende sieninge oor goed, maar ons respekteer mekaar daarvoor en laat mekaar toe om elkeen sy eie identiteit uit te leef. Met dit gesê is ons ongelooflik verlief op mekaar al vir so lank en nog steeds na die troue. Ons albei besef dat ons in hierdie ding is om saam met mekaar te groei.”







Diensverskaffers
Grimering: Carin Fourie
Dekor: Flambojant en Blooming Wonderful
Trourok: Elizabeth Stockenstrom
Leer kruisbande: Eden&Co. Quality Leather Goods
Fotograaf: Matthew Carr
Venue: Mill house kitchen, Lourensford estate
by Cinnapanel | Oct 24, 2016 | Uncategorized, Weddings
Theodore en Jean-Mari se troue was ‘n fees van ‘n halwe week lank!
Theodore en sy manne het kruisbande gedra, en Jean-Mari het ook ‘n handgekleurde, gevlegte beltjie gedra – alles handgemaak deur Eden&Co. Hulle foto’s was so feestelik – ons kon nie anders as om meer uit te vind oor hulle mooiste dag nie…
.
- Waar het julle twee ontmoet?
“Ons het altwee in Potch gestudeer. Theodore en my boetie was in dieselfde koshuis. Almal wat al in Potch was ken seker Die Bult, en almal wat al in Potch was ken seker Bourbons. En daar het ons in mekaar vas gedans! Vir lank het ons niks vir Boetie gesê nie. Ons eerste date was in Berts sodat geen Caputter (Theodore en Boetie se koshuis) in ons kan raakloop nie want NIEMAND mag vir Boetie sê nie! Ons weet mos nog nie of die ‘n ernstige ding gaan raak nie… ”

2. Hoe het Theodore jou gevra om te trou?
“Hoe raak jy verloof? Jou oukie, nou man, reël ‘n naweektrippie saam met die hele familie Lesotho toe, want sy meisie, nou vrou, verjaar die Sondag!! Dit is Mei, Lanster – ons Defender – is gepak en ‘n ou WEG se woorde “‘n mens kamp net in die winter in Lesotho as jy geen ander keuse het nie – of familie van Chuck Norris is” sit in ons agterkoppe. Sani Pas op, vind ons skuiling by Sani Stone Lodge. Die daktent se canvas en Lanster se nuwe skokbrekers word behoorlik getoets deur die sterk winde. Saterdag oggend deur die passe, sterk oppad na Katse dam stoei twee Fords om by te bly. Donker slaan ons kamp op by die Munisipale kampterrein, hoogs opgewonde vir die oggend want die massiewe Katse moet nou hier voor ons lê!! 6 uur die Sondag oggend is almal wakker, maar tjoepstil want Theodore gaan Jean-Mari nou vra om sy vroutjie te word…. Theodore is dik van die giggel, want nou van alle tye wil ek moeilik wees en nie die sonsopkoms kyk nie. Ek lê nou heeltemal te lekker in my snoesige daktent bedjie. Na ‘n lang gespook is ek op, Lesotho mus op, serp om die nek, blinddoek op en hy lei hy my toe na ‘n mooimaak plekkie, hy vra, ek sê ja, almal is daar, plus Lanster!! Ek soek soene, maar daar was nog glad nie tyd vir tande skoonmaak nie….. “Toemaar ek het Chappies!!!!”
- Julle troue was werklik uniek! Vertel ons meer van die diens en die onthaal – waar was dit, en watter tipe styl het julle vir die dekor gekies?
“Tema vir ons troue was: Kom ons Trou! Kom ONS vier die liefde, die lewe, en ons mense! Die plan wees een GROOT partytjie op my ouers se plaas. En dit was, met 200 gaste.
Die “troue” het al Woensdag begin. Tente was opgeslaan. Meer soos n mini oppikoppi gelyk. Al ons vriende het kom help om hierdie ‘n baie spesiale dag te maak.
Die diens was onder een massiewe alleenstaande vyeboom in die middel van die veld. Gaste op stompe…tussen wurms. Jip…van alle dae het die boom besluit om op ons troudag wurms te kry. Hier ‘n klap daar ‘n klap. Wurms orals op my rok. Min gepla, ek trou met my gunsteling mens!
Die styl vir dekor noem ek maar Jean-Mari styl: pallet tafels, coke botteltjies, baie liggies, draad underplates al die pad van Zambië, draadtafelname, roomys, poloroids, grys servette, lavender, Wilson toffees en bankrotbos/slangbos. Ons persoonlikheid in ‘n skuur!
Met die spyskaart wat op ‘n muur geverf is kon niemand dit mis kyk nie. Skape op die spit en L’Abri Fountain Brewery wat almal laat proe aan sy fantastiese bier. Elkeen het ‘n bierglas as geskenk gekry met ons “Kom ons trou” logo op – so niemand het ‘n verskoning gehad om nie om die vuur te sit en lekker te kuier nie!
Daar was gedans dans dans tot 05:00 die oggend. Roomys geëet tot 05:00 die oggend. Daktent opgeslaan en so klein bietjie geslaap. Die perfekte dag!”

4. Het jul die meeste van die reëlings self gedoen? Enige raad, of dinge wat jul anders sou doen?
Ons het alles self gedoen. Sonder my Moeder sou daar net ‘n boek met prentjies gewees het. Alles wat ons wou hê, het sy ‘n realiteit gemaak. Die lekkerste is as jou prentjie n realiteit word.
Wat ons anders sou wou doen…Niks! Meer ure op die dag sou pret gewees het. Ons sou net nog so klein bietjie langer met al ons mense wou gekuier het. Dit was so lekker dag!

5. Was daar n spesiale boodskap uit die diens wat julle tot vandag toe saam met julle dra?
Die huwelik is veel meer as net ‘n verhouding tussen man en vrou; dit is ‘n verhouding tussen man,vrou en God. Die huwelik word ook verskeie kere in die Bybel as simbool gebruik om die erns daarvan te bevestig.

6. Hoe hou julle jul huwelik steeds opwindend noudat al die opwinding van die troue self verby is?
“Lekker lekker ‘date nights’! Ons is ook fotograwe so ons naweke is maar lekker besig maar ons probeer om elke naweek n defender avontuur te maak, al is dit vir werk of net kamp saam ons vriende.”
Diensverskaffers:
Rok: Brides Lucilla
Venue: Bruid se ouers se plaas
MUA: Welmari Pretch
Hare: Elca Kruger
Fotograaf: Mighty Fine (Cassie)
Videograaf: Mense met Gesigte https://vimeo.com/145243384
Kruisbande van die manne: Eden & Co &Quality Leather Goods
Troukar: Ons trustworthy defender Lanster
Blomme: Marietjie van der Walt
Draad tafelname: Desert Rose Project
Troukoek: Annelien Kruger
Ons Logo en logo op glase: Evette Barnard van Stylfabriek


