“Al loop iets verkeerd op jou troudag…is jou dag nog steeds PERFEK, want jy trou met die liefde van jou lewe en jy deel die spesiale oomblik met vriende en familie. Wat kan ooit meer perfek wees as dit?” – Ania
Hoe het julle ontmoet en hoe het hy jou gevra om te trou?
WJ se nefie het met my beste vriendin getrou. Hy was ‘n strooijonker en ek was ‘n bruidsmeisie – hy van Nelspruit en ek van Pretoria. Toe ons op die troue ontmoet was dit “love at first sight!” (….ja, dit gebeur in die regte lewe en nie net in die ‘movies’ nie!) Na daardie aand was die koël deur die kerk en die res is geskiedenis!
Hoe het julle verloof geraak?
My pa het ‘n wildsplaas met ‘n dek van sewe meter hoog – my gunsteling plek in die hele wêreld! Vir my verjaardag het ek my naaste vriende en familie plaastoe genooi. WJ het toe nog in Nelspruit gebly. Hy moes die Vrydag na ‘n vêr klient gaan en het gesê hy gaan eers laat die Vrydagaand of vroeg die Saterdagoggend kan kom.
Die Vrydagoggend het hy my vroeg wakker gebel en gesê ek moet in my kar se kattabak by die spaarwiel gaan kyk, daar was ‘n briefie (wat hy die vorige naweek daar weggesteek het). In die briefie het hy verduidelik dat hy met my bestuurder gereël het dat ek die dag verlof het, en dat hy vir my en my ma ‘n middag by die spa bespreek het. Hy het gesê dis ‘n bederfie omdat hy nie op my verjaardag by my kan wees nie. Omdat hy so ‘n romantiese persoon is was dit glad nie vir my vreemd of verdag nie. In die briefie het hy verder geskryf dat hy my verjaarsdaggeskenk op my gunstelingplek gaan wegsteek en dat ek net vir my pa moet vra waar dit is as ek op die plaas aankom.
Nadat ons by die spa ontspan het, het ek dek toe gery om my geskenk te gaan soek. Toe ek daar aankom was dit tjoepstil – ek het niks of niemand gesien nie. Eers toe ek heel bo kom het WJ opgespring…ek het nog nie eers ‘hallo’ gesê nie, toe gaan hy al op een knie en vra my om met hom te trou. Daar was die mooiste sonsak nog ooit aan die een kant van die dek en die ander kant was die ‘super-maan’ besig om op te kom. Daar was koekies en kasies en sjampanje. Later het al ons vriende by ons kom aansluit op die dek (almal het geweet) en die hele naweek was een groot feesviering gewees.
Vertel bietjie meer oor die styl van julle troue?
Ons styl was boheems. Groen is my en WJ se gunsteling kleur, so ons kleurskema was hoofsaaklik groen met bruin, wit, pienk en geel. Ons het op my pa se plaas getrou – die seremonie was by die dam en die onthaal was rondom die stoor en stoorhuis.
Familie en vriende het al van die Donderdag gekom om te kom help. Dit was ongelooflik spesiaal gewees, so ‘n familie-vriende-spanpoging-troue waar almal saamgewerk het, saam gelag het en saam gekuier het. Dit het ook gemaak dat almal die troue baie waardeer het, juis omdat hulle geweet het hoeveel moeite dit was!
Ek en WJ is plat-op-die-aarde-mense wat mal is oor ons familie en vriende, niks was baie formeel en styf nie. Ons het gehuppel toe ons in die onthaal instap en ons het ge-tiekiedraai in ons openingsdans – dit was die mooiste, lekkerste en gelukkigste dag nog van my lewe.
Waaroor het julle preek gegaan?
Ons het vir WJ se skoonsussie gevra om die boodskap vir ons te doen. Haar preek het gegaan oor hoe God ons oor die jare vir mekaar uitgekerf het en met ‘n plan gemaak het sodat ons by mekaar pas en hoe ons ook met ‘n plan in die huwelik moet in gaan; met ‘n einddoel in sig. Sy het vir ons twee uitgekerfde houtmannetjies gegee en die preek in ‘n mooi boksie gesit wat ons vir altyd kan hou en ons altyd aan daardie dag en God se plan kan herhinner.
Wat was vir jou die heel beste oomblik ?
Sjoe…ALLES…ek weet dit is ‘n clichè antwoord, maar elke liewe oomblik van my troudag was my gunsteling! Ek sal probeer om ‘n paar te noem:
- Die eerste oomblik wat my pa my gesien het.
- Die oomblik toe ek met ‘n donkiekar afry kerk toe en WJ se gesig sien, en saam met my pa in die gang kon afstap.
- Die oomblik wat ek ‘ja’ kon sê en my man vir die eerste keer soen.
- Die feit dat ons gaste dit geniet het en soveel komplimente gegee het en gesê het dat hulle die LIEFDE kan voel.
Kyk sommer hier na ‘n kort video oor WJ en Ania se troudag:
https://vimeo.com/179623314?ref=fb-share&1
Diensverskaffers:
Fotografie: Stroopsoet fotografie
Kruisbande: Eden&Co. Quality Leather Goods