Christmas Orders Close 15 December! Happy Shopping!

Christmas Orders Close 15 December! Happy Shopping!

Wanneer ‘n mens na Dewet en Melani se troufoto’s kyk is dit onmoontlik om verby hulle stralende gesigte te kyk. In elke foto is dit duidelik dat hulle kinderlik opgewonde is om ewige trou aan mekaar te sweer, en hierdie opwinding straal ook duidelik uit hulle opwindende, vars dekor.

bb10c8a9-11fb-45bf-bd8c-c1b2a154ee45

Melani vertel dat hulle storie van die begin af vol opwinding was – alhoewel daar soms ook ‘n hele skoot adrenalien bygekom het. Toe Dewet haar wou vra om te trou, het sy amper gedog sy verloor hom net daar. Sy vertel van dié dag toe hulle beide amper verdrink het tydens ‘n staptoer:

“In 2013 het ons die Otter staptoer gedoen en Dewet het in die geheim beplan om op dag 4 van die staproete die groot vraag te vra.  Ons het op einste dag 4 teëspoed gekry.  Ons moes die oggend 2:00 begin stap om Bloukrans te kruis.  Dit sou beteken dat ons teen 7:00 die oggend by Bloukrans moes wees om nog laagwater oor te steek.  Daar was egter die vorige aand ‘n hengse storm wat veroorsaak het dat die see slymerige skuim oral uitgestoot het.  By een plek het ons die skuim teëgekom en knie-diep daarin gestap.  Ons het aanvanklik gedink dis snaaks en foto’s geneem maar die skuim het al hoe hoër gestyg, totdat selfs Dewet – wat ‘n lang man is – bedek was met skuim.  Skielik was hy weg, en het een van ons vriende gevra waar hy is!!  Ek het sommer paniekerig geraak en in dieselfde gat gespring waarin Dewet toe ongesiens geval het. Dit was nogal vreesaanjaend, want dit het gevoel of ek verdrink of versmoor, ek was nie regtig seker nie.  Ek het my knieg seergemaak en my toon gebreek, maar ons het toe verder gestap.  Ons het om 9:00 die oggend eers Bloukrans gekruis toe dit al redelik hoogwater was!  Ons was baie verlig om uiteindelik by die kamp uit te kom na die uitdagende dag.  Dewet het toe nie op hom laat wag nie, en het my na ‘n afgeleë strandjie gevat en die vraag gevra! ”

Natuurlik het dié stralende meisie net daar JA gesê en kort daarna kon hulle met die troureëlings begin. Alles het voor die wind gegaan totdat daar op die dag van hulle troue, net soos met hulle verlowing, WEEREENS ‘n groot storm losbars. Nie eers hierdie storm kon egter hulle liefdesvlam blus nie…Dié troue by Verkykerskop in die lieflike Vrystaat was ‘n vintage fees in die mooiste pastelkleure.

m_d-collage

Dewet en Melani het al hulle dekor self gedoen en aan kreatiwiteit het dit by dié twee nie ontbreek nie. Melani het self hulle pienk ricekrispie koek gebak en versier met lint en ‘n bergroos, terwyl Dewet ‘n groot skerm gebou het waarop hulle trouliedjie (Michael Bublé se Close your Eyes) se video gereflekteer het binne in die saal.

Die blomme is deur ‘n vriendin gedoen; hulle het self lapservette versier met ‘n lint en ‘n hartjie; hulle het linnesakkies gemaak en met die spyskaart gestempel vir die eetgerei en selfs hulle eie logo’s gemaak vir die wynbottels!

Elke gas is ook tot by die ore bederf. By elkeen se plek is ‘n skryfbord gedek waarop sy of haar naam saam met ‘n spesiale beskrywing geskryf is (byvoorbeeld Raakvat Riëtte) terwyl elke gas – buiten vir die tafelpersentjies – boonop nog ‘n sonbril gekry het met ‘n boodskap wat sê “Moet jou nie blindstaar teen ons liefde nie”. Vir die wat die nag deur wou dans was daar boonop nog sandale vir wanneer hulle voete seer geraak het.

eden-7

Wanneer gevra word wat haar raad aan voornemende  bruide is, antwoord Melani: “Jou troudag hoef nie uitspattig te wees nie, jy doen dit nie om mense te beïndruk nie. Dit is jou en jou man se viering van die res van julle lewens wat wag.”

En gevra hoe hulle – nadat al die opwinding van die troue verby is – steeds elke dag kinderlik opgewonde oor hulle liefde bly, is die antwoord eenvoudig: spandeer tyd saam! “Ek en Dewet hou baie ‘’date nights’’ en ons doen amper alles saam!  Ons hou van reis en probeer altyd iets nuut.  Ons is mekaar se beste vriende en gesels oor dinge wat ons pla.  Kommunikasie, respek en vertroue is die belangrikste aspekte van ‘n huwelik, maar ‘n huwelik kan slegs werk as God die middelpunt daarvan is.”

e7366b69-0eb0-48c9-be1a-2c0c1f1e86bc

Die belangrikste van hulle troudag was egter vir die Lategans die goeie preek wat hulle dominee, Jan Venter, gegee het. Hierdie preek was gebaseer op Joshua 24:15 en hulle dra hierdie spesiale boodskap nog elke dag in hulle harte saam:

“Ek en my Huis…ons sal die Here dien.”

mdw2

 

DIENSVERSKAFFERS:

BLOMME EN DEKOR: Bruidspaar, vriende en familie

BRUID SE ROK: Kyna Consili (www.kynaconsili.com)

BRUIDEGOM SE KRUISBANDE: Eden&Co (www.edenleatherco.com)

GRIMERING: Bruid self

BRUID SE HARE: Bruid se (elfjarige!) niggie

 

 

 

Chat to Us
0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop